
Solidariteit Helpende Hand reik al sedert 2010 uit na gemeenskappe in die Limpopo-streek. Dié gemeenskapsorganisasie word bygestaan deur vrywilligers wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Ons werk ook saam met skole, kerke, boere, sakemanne en ander belanghebbendes wat hand uit die mou steek om 'n verskil te maak in die gemeenskap. Ons netwerke om gemeenskapsontwikkeling te weeg te bring, word gekenmerk deur 'n gedeelde visie, "self doen" en "saamstaan".
Ons besef hoe krities opvoeding, opleiding en ontwikkeling is om hoop te skep en ons mense vorentoe te neem. Om net te help, is nie genoeg nie; om iemand te help om homself en uiteindelik ander te help, is die sleutel tot volhoubare vordering. Dit is vir ons belangrik om soveel as moontlik kinders, gesinne, weerloses en gemeenskappe na selfstandigheid en onafhanklikheid te lei met die projekte en inisiatiewe wat ons aanpak. Laasgenoemde is 'n oorweldigende taak, maar bietjie vir bietjie en stap vir stap vorder ons.
Ons het vyf permanente personeellede en is aktief in 15 dorpe in die provinsie. Ons vrywilligers, takke, dorpsverteenwoordigers, Ons Winkels, Ons Plek en netwerkvennote deel ons visie en waardes. Hulle glo en werk hard saam met ons om oplossings te vind wat hoop skep sodat ons uiteindelik 'n beter toekoms kan bou.
Ons is dankbaar vir die hande wat reeds saam uitreik en opgewonde oor die hande wat nog gaan bykom, want hoe meer hande ons het, hoe 'n groter verskil kan ons maak.
Ontmoet ons personeel




Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie
Kalender
Skenk by jou naaste Ons Winkel
